Satanisme

Hierdie artikel behandel Religieuse Satanisme, 'n vreedsame ateïstiese beweging. Vir die fenomeen van okkultisme en pseudosatanisme onder jongmense, sien die artikel Satanistiese jeugkultuur.

Die term Satanisme is sedert die laat Middeleeue gebruik om na 'n aantal verskillende geloofstelsels binne verskeie kontekste te verwys. Aanhangers van Satanisme - of buitestaanders wat beweer dat hulle 'n beskrywing sou gee van Satanisme - het steeds 'n groot verskeidenheid geloofsoortuigings aan Satanisme toegeskryf, wat van die letterlike aanbidding van 'n kwaadwillige geestelike wese (teïstiese Satanisme) of ondermynende praktyke en rituele, waarin Christelike simbole bespot word (veral die sogenaamde Swart Mis) tot by die beweerde herontdekking van 'n antieke, misverstane religie gestrek het soos byvoorbeeld Setianisme, wat Satan aan die Egiptiese god Set gelykgestel het.

Eers met die Verligting van die 18de eeu het vername digters en denkers gestalte gegee aan die moderne Satanisme as 'n nuwe filosofiese rigting met 'n menslike gesig.[1] Dit was 'n sinnebeeld vir die moderne mens se bevryding van onnatuurlike Christelik-kerklike leerstellings en dwange.

Die belangrikste huidige betekenis verwys egter na die religieuse stroming, wat in sy moderne vorm in die Verenigde State onder meer met die stigting van die Kerk van Satan ontstaan het en in wese óf 'n ateïstiese filosofie verteenwoordig, wat die morele waardes van teïstiese godsdienste soos die Christendom bespot en dit verwerp as onnatuurlik en huigelary en 'n selfbewuste lewenstyl volgens die natuurlike instinkte van die mens bepleit; óf teïstiese of politeïstiese strominge wat die klemtoon op 'n spirituele geloofservaring lê.

Religieuse Satanisme moenie verwar word met die sogenaamde Patologiese Satanisme of die Satanisme van die huidige jeugkultuur nie. Terwyl Religieuse Sataniste as vreedsame ateïste of nihiliste beskou moet word, spruit misdade wat in die media as "Satanisties" beskryf word, dikwels voort uit die sosiopatiese neigings en psigiese versteurings van sekere enkelinge en groeperings wat beweerde Sataniese simbole misbruik vir hul sadistiese geweldpleging.

Die Satanistiese jeugkultuur word gekenmerk deur sy verregaande kommersialisering en heg meer waarde aan bepaalde uiterlikhede as aan religieus-spirituele ervaringe. Jeugdiges probeer gewoonlik net uitvind of daar werklik 'n bose mag bestaan wat met bepaalde rituele aangeroep kan word.

  1. Richtigstellung des Satanismus. Aanlyn beskikbaar: Schwarze-seele.com Besoek op 18 November 2007

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search